DIEPER DUIK #3:Jesus se vreemde smaak in mense
Автор: Ronell Bezuidenhout
Загружено: 2026-02-03
Просмотров: 235
Описание:
DIEPER DUIK #3:
Jesus se vreemde smaak in mense
Welkom by vandag se "Dieper Duik." As jy reeds die Padlangs-dagstuk gelees het, weet jy ons kyk vandag na Jesus se span. As jy nuut is: Welkom! Ons reis vir 12 dae lank padlangs agter Jesus aan om te sien wat dissipelskap in die praktyk beteken. En vandag gaan ons praat oor Jesus se uiters "vreemde" smaak in mense.
In Matteus 9 lees ons hoe Jesus verby ’n tolhuis stap en vir Matteus sê: "Volg My." En Matteus staan op en volg. Maar ons moet die skandaal hiervan verstaan. Tollenaars was nie net ongewild nie; hulle was die melaatses van die samelewing. Hulle was verraaiers wat vir die Romeinse onderdrukker gewerk het en hulle eie mense afgepers het vir geld. In die Joodse wêreld was hulle ritueel onrein - jy kon nie eens saam met hulle eet sonder om jouself te besoedel nie.
Tog roep Jesus juis vir Matteus om in Sy binnekring te wees.
As jy na die lys van dissipels in Matteus 10 kyk, raak dit nog vreemder. Daar is Matteus, die man wat vir Rome gewerk het. En dan is daar Simon die Seloot. Die Selote was radikale vryheidsvegters wat Rome gehaat het - hulle sou mense soos Matteus as teikens vir sluipmoorde beskou het.
Hoe het hulle in dieseflde vertrek gebly? Dit moes geweldige spanning veroorsaak het. Maar dit wys ons iets: Jesus kies nie mense wat reeds dieselfde dink of dieselfde agtergrond het nie. Selfs vir Judas, van wie Jesus geweet het dat hy Hom sou verraai (Johannes 6:64), is ’n plek aan tafel gegee.
Soos Paulus later in 1 Korintiërs 1:26-27 skryf: "Kyk na julle eie roeping... daar is nie baie wat volgens die maatstaf van mense wys of magtig of van edel afkoms is nie. Nee, wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies..."
Hier is die knoop vir ons: Ons glo dikwels subtiel dat ons gekies is omdat ons "gekwalifiseerd" is. Omdat ons dalk die regte teologie het of ’n ordentlike lewe lei. Maar die oomblik as ons dink ons verdien ons plek in die span, word ons soos die Fariseërs wat met minagting neerkyk op die "sondaars."
Jesus kies nie mense omdat hulle goed is nie; Hy kies mense wat desperaat genoeg is om te weet hulle het ’n Dokter nodig. Dit beteken dat ons moet ophou om ander te diskwalifiseer - die een met die gebroke verlede, die een wat polities aan die "verkeerde" kant staan, of die een wat ons as "te ver weg" beskou.
As Jesus ’n tollenaar en ’n ekstremis aan een tafel kon kry, wat sê dit van die mense wat jy vandag uit jou hart of jou gebede uitsluit? Miskien is die begin van dissipelskap nie om die "regte" mens te word nie, maar om te besef dat jy nooit die regte mens was nie - en dat God jou nogtans gekies het.
Kom ons bid saam: Here Jesus, dankie dat U koninkryk nie gebou word op resumé’s of status nie, maar op genade alleen. Vergewe my waar ek ander diskwalifiseer omdat hulle nie in my boksies pas nie. Help my om vandag met U oë na my naaste te kyk - die oë van ’n Dokter wat gesond maak, nie ’n regter wat veroordeel nie. Amen.
Sien jou môre weer op die pad.
Hierdie bediening is uitsluitelik afhanklik van vrywillige donasies. Indien jy dit kan bekostig, help my asb om die roeping te kan voortsit:
STANDARD BANK
TAKKODE: 051001
REK NO:080042805
RM BEZUIDENHOUT
Повторяем попытку...
Доступные форматы для скачивания:
Скачать видео
-
Информация по загрузке: