Sewus van Rooyen - Ouboet se wals
Автор: keurspel se Afrikaanse- & Boeremusiek
Загружено: 2025-01-28
Просмотров: 208
Описание:
Hierdie plaat verteenwoordig sekerlik een van die grootste slenters in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, indien nie in dié van Suid-Afrikaanse musiek nie! Eerstens was daar nooit ‘n plaaslike kitaarspeler met die naam Sewes van Rooyen nie, maar was dit in werklikheid ‘n skuilnaam wat Taffie Kikillus gebruik het. Dit opsigself is nie werklik so uniek nie, aangesien baie kunstenaars plate uitgereik het onder skuilname, insluitend Flippie van Vuuren as Boet van Wyk en Dan Hill as Danie Berg. Wat hierdie plaat egter uniek maak is dat daar op die agterste omslag ‘n kort biografie van Sewes gegee word, waarin daar aangedui dat hy vir 40 jaar in die Hooglande van Kenia gewoon het voordat hy na sy tuisland, Suid-Afrika, teruggekeer het.
Selfs meer verstommend is die feit dat die plaat se titel, “Ghitaar Se Moses”, die indruk skep dat die hoofinstrument ‘n kitaar is, terwyl dit inderwaarheid ‘n klavesimbel is wat deur Taffie bespeel word. ‘n Klavesimbel is 'n musiekinstrument wat baie soos ‘n klavier lyk en wat deur middel van 'n klawerbord bespeel word. Deur 'n sleutel in te druk lig die agterkant daarvan binne die instrument, wat op sy beurt 'n meganisme gebruik om een of meer snare te pluk. Op hierdie wyse het Taffie die hele musiekbedryf, asook die luisteraars, om die bos gelei.
Omdat die klank nie heeltemal soos dié van ‘n kitaar klink nie, het hy verder ook die verdigsel versprei dat Sewes in Kenia met Mau-Mau’s slaags geraak het en die aanval met die kitaar afgeweer het, vandaar skade aan die kitaar en die gevolglike klank verskil (dankie aan Tertius Louw vir die inligting!).
Johann Gustav Kikillus is op 13 Maart 1927 op Kuruman gebore waar sy pa die magistraat was. Hoewel hy van kleins af 'n aanleg vir musiek getoon het, het hy na matriek aan die Universiteit van Stellenbosch in die regte studeer, en in 1948 as aanklaer op Nylstroom begin werk. Taffie was op daardie stadium reeds ‘n baie bekwame klavierspeler en Hendrik Susan het hom toe genader om by sy orkes aan te sluit, ‘n aanbod wat hy aanvaar het. Hy het hierna menige toere saam met hulle onderneem.
In die vroeë 1950s het Taffie hom by die orkes van Nico Carstens aangesluit, hoewel hy toe ook ‘n voltydse pos as bemarkingsdirekteur aanvaar het, en musiek op ‘n deeltydse basis beoefen het. Hy het hierdie pos vir die volgende 28 jaar beklee tot en met sy aftrede.
Hy was ook ‘n baie bekwame liedjieskrywer en verskeie internasionale kunstenaars, soos Chet Atkins en die Duitser Freddy Quinn, het van sy liedjies opgeneem. Sy grootste prestasie was ongetwyfeld toe Jim Reeves in 1963 van sy liedjies in die rolprent “Kimberley Jim” gesing het, onder andere “Dolly with the dimpled knee”, wat hy saam met Gilbert Gibson geskryf het, asook “Born to be lucky” wat sy eie komposisie was.
Behalwe vir langspeelplate wat uitgereik is in die tyd toe hy lid was van Hendrik Susan en Nico Carstens se orkeste, het Taffie ook ‘n groot aantal langspeelplate as solo-kunstenaar uitgereik, beide in Afrikaans en Engels. Van die eerstes was “Taffy Plays For You” en “Make Believe”, albei in 1958. As akteur het hy uitgeblink in rolprente soos “Matieland!” in 1955, “Dis Lekker Om Te Lewe” in 1957, en “Fratse In Die Vloot” in 1958. Op televisie het hy in 1984 opgetree in die reeks “Jasper le Feuvre”, en was hy die aanbieder van TV1 se Boereorkes kompetisie in daardie jaar.
Sy seun Karl het ook bekendheid verwerf as aanbieder van televisieprogramme soos Pop Shop, Fast Forward, Grafitti en No Jacket Required, en was 'n gewilde omroeper by Radio 5 en later by Hoëveld Stereo.
Taffie is op 22 September 2014 in die ouderdom van 87 oorlede.
Hierdie liedjie is vanaf die Sewes van Rooyen album "Ghitaar Se Moses" wat in 1962 uitgereik is.
Повторяем попытку...
Доступные форматы для скачивания:
Скачать видео
-
Информация по загрузке: